UIT DIE HOOF SE PEN
Laerskool Tygerpoort se leuse is nie verniet “Doelgerig” nie! Vir meer as 118 jaar al, woeker en werk ons doelgerig voort. Ons is trots daarop dat ons etiese waardes uitleef en kwaliteitonderrig en gelyke geleenthede daarstel, wat lei tot gelukkige kinders en ondersteunende ouers.
Vandag is die strewe steeds om te bou en te verbeter en net die beste vir die skoolgemeenskap te verseker. Ons skool presteer in die topligas in ons provinsie, en enige persoon wat op soek is na die beste onderrig, kan nie bekostig om Laerskool Tygerpoort oor die hoof te sien nie.
Elke leerder word as uniek beskou en so gelei dat hulle hul potensiaal ten volle kan ontwikkel en verwesenlik. Om suksesvol te wees, streef die Tygies daarna om op sterkpunte te fokus en nie op swakhede nie. Leerders word geleer om eie denke te ontwikkel in 'n omgewing wat geleenthede daarvoor skep. Ons leef ook die verborge kurrikulum uit, waardeur waardes soos samewerking, verantwoor-delikheid en deursettingsvermoë in ons leerders gevestig word.
Vernuwing en die vorming van die regte waardes is die rigsnoer van onderrig in die klaskamer. Tegnologie dra by tot kreatiewe, interessante en lewendige klasaanbiedings en elke klaskamer is toegerus met dataprojektors en internet.
Ons volg ‘n unieke leesprogram in die grondslagfase wat leerders leer om vinniger te kan lees, skryf en reken, wat effektiewe toekomstige leer verseker. Ons Wiskundestandaard is van die beste en ons leerders presteer elke jaar uitstekend met die olimpiades wat die Departement aanbied. Leerders bou daarop voort in die hoërskool en dit is sigbaar in die uitsonderlike prestasies wat daar bereik word.
Verskeie kreatiewe vaardighede in die kunsklas skep geleenthede vir leerders om kreatiewe denke visueel uit te beeld. Musiek vorm ook deel van ons kurrikulum en so verseker ons ‘n holistiese benadering tot leer.
Met ‘n geesdriftige, toegewyde en goed opgeleide personeelkorps, word leerders begelei en die pad aangewys om hulle voor te berei vir die lewe.
Op ons pragtige, groot, oop terrein, kan leerders kaalvoet skool toe kom. Hier kry hulle die beste van twee wêrelde: ‘n Topskool aan die buitewyke van die stad met ‘n unieke karakter en "plaasatmosfeer".
Word ‘n Tygie en word deel van die Trotse Tygie Wenspan!
Mnr. N.J. Coetzee
Skoolhoof